Die Burger : 31 August 2010
Mariska Spoormaker
Om te hardloop waar die bebbejaan, buffel en luiperd vir jou loer, wag nou op 'n klompie atlete in die Baviaanskloof.
Draf waar die likkewaan sy stert klap an die slang jou sissend groet ...
Nee, dis nie deur die dieretuin nie, maar deur die ongerepte veld van die Baviaanskloof se Wildernisgebied - 'n hele 40km ver oor berg en dal - waar die super-lang-asems mekaar op 18 September die stryd sal aansê.
Verlede jaar se wenners, Warren Petterson van Kaapstad en SanMari Woithe van Port Elizabeth, neem vanjaar weer deel om hul titel te vededig.
Vasbyt sal weer die wagwoord wees, want daar sal geen toeskouers of verversingstasies elke twee ki;ometer wees om moeë vlees of gees aan te moedig nie - dis net die atleet, sy asem en sy gedagtes.
Verlede jaar is die moordende Liberty Health Baviaanskloof-wedloop vir die eerste keer aangebied.
Toe alles verby is, het een deelnemer vertel hoe dit sy moeilikste wedloop tot nog toe vir sy lyf en kop was omdat hy nie net op die wedren moes fokus nie, maar ook oog en oor vir enige onbejkende gevare moes oophou.
Verlede jaar het 'n renosterkalfie haar hoeka langs een van die hardlooproetes tuisgemaak.
"En omdat ons veral vir haar ma bang was, het ons toe maar liefs die roete verander" volgens Darryl Raubenheimer, mede-organiseerder van die wedloop.
Om die omgewingsimpak soo laag moontlik te hou, word die roete slegs hier an daar met lappe aangedui. Andersins moet die hardloper sy eie sin vir rigting inspan of wildspaadjies probeer volg.
Teen die einde van die roete kan die steil hange en digte spekboombos vir interessante voorvalle sorg.
Dan is daar die verrassingspakkie vol kolle: 'n groot Kaapse berg-luiperdmannetjie wat in die spesifieke gebied rondloop.
"Omdat hy nog nie met 'n senderhalsband kan spog nie, is 'n vanghok met lewende aas daar vir hom gestel.
"En diegene wat elders oogkontak met hom maak, het natuurlik die kans om die wedloop in rekordtyd to voltooi" het Raubenheimer geskerts.
Die deelnemers kry sewe uur om die roete, wat by Geelhoutbos in die Baviaanskloof-wildernisgebied begin en eindig, te voltooi.
Temperature in die kloof kan wissel van 40°C tot sneeuval; dus moet elke hardloper buiten sy eie kos en drinkgoed 'n fluitjie en 'n noodkombers saamdra.
Word hulle daarsonder gevang, is hulle dadelik gediskwalifiseer - ook diegene wat dit durf waag om enige stukkie plastiek of papier agter te los.
Nou dink 'n mens dat 'n klomp superfikses net een maal só 'n moordende wedloop sal aanpak, maar vir die tweede Liberty Health Baviaanskloof-wedloop, wat op 18 September aangebied word, het marathon-atlete van regoor die land oor hul voete geval om deel van hierdie aksie te wees.
"Maar ons moes die streep by 100 deelnemers trek om die omgewingsimpak minimaal to hou en om doeltreffend mediese bystand te kan verleen waar nodig," het Raubenheimer verduidelik.
Elke hardloper wat betyds klaarmaak, kry 'n spoggerige medalje en 'n spekboompie "wat verder by hul huise sal aanhou groei en hulle altyd aan die Baviaanskloof sal herinner".
"Die doel van die wedloop is juis om groter bewustheid rondom die Baviaanskloof te skep. 'n Paar van verlede jaar se hardlopers het intussen wel met hul gesinne kom kuier" her Raubenheimer gesê.
Baie sal vir vanjaar se wedloop terug wees, en 'n mens kan byna honderd persent seker wees dat hulle volgende keer weer sal annmeld.
Want sodra enige atleet drie van dié uitsonderlike Baviaans-wedloop op 'n ry voltooi het, ontvang hulle die Legende van die Baviaanskloof-eerbewys.
• Om vas te stel wat dit is, besoek gerus www.baviaansrun.za.net/new/57-unique-limited-art-for-legends.html




